CHRIS WAIT IN AFRIKAANS
My moedertaal is Afrikaans en oor die jare het ek heelwat geskryf en musiek gepleeg in Afrikaans, en dis presies wat jy op die blad sal vind.
DIE REISIGER (LIEDJIE)


ALLES IS MOS SWART EN WIT (GEDIG)
ʼn Wit gesig met ʼn donker hart hang binne ʼn skewe skildery in ʼn bouval
agtergelaat
na ʼn oorlog vir vrede
waarin almal verbete geveg het vir hulle spesifieke, regverdige god
die een wat die ‘good guys’ se kant kies
die een in die een oorlog waarin die kuns(tenaar) gesterf het
aan beide kante
DIE GRAF (GEDIG)
Op Sutherland het ons by een of ander bekende siel uit die verlede se graf gestop. Dit was koud en dramaties.
Die graf was nie in ‘n begrafplaas nie, maar in die tuin van ‘n onbewoonde huis en museum.
Alle grafte is onbewoonn, maar nie onbesoek nie.
Die dorp was stil.
Straat.
Lamp.
Rigting.
Gewend.
En toe stap ons.
Die blomme het gewieg op die stem van ‘n bries.
Op die rante het die sterrewag die permanente nag se heelal in beeld vasgelê.
Ons het alles verlaat in die aangesig van ‘n dralende stofkolom. Die hitte was polsend in die middel van ons dag.
DIE GEWIG VAN 'N SIEL (GEDIG)
​
Die gewig van 'n siel
word bepaal deur die delikate geraamte-bene van ʼn afgestorwe voël
in die weegskaal van ʼn kombuis
waar die gesprekke van bemindes
soos vlesige gebede na die sterre verskiet
In Nieu Bethesda hang die stof in strate met verganklikheid bekroon
soos duiwels wat draai in die wind
die son span sy koets met die mooiste perde om ons almal te kom haal
vir ʼn feesmaal wat die honger van arm nagte sonder troos voer
vanuit die peer laning langs die stroom wat onophoudelik uit die aarde kabbel
op Nieu Bethesda wil ek geruisloos die weegskaal in die sterre probeer haal
want Nieu Bethesda; is ʼn mooi genoeg plek om jou bene agter te laat

BOOGSKITTER SKITTER-BOOG (GEDIG/LIRIEK)
​
Boogskutter skitter-boog
waar skiet jy jou pyl vanaand?
waar kom ons vandaan?
die aand is groot en ons is klein
Boogskutter skitterboog
die melkweg lyk so groot vanaand
kyk hoe loop die pad
soos pêrels in die niet
Boogskitter skitter-boog
waar skiet jy jou pyl vanaand?
die wêreld tol deur die ruim
reisiger opsoek na huis
Boogskutter skitter-boog
waarheen reis jy vanaand?
oor die silwer meer
deur die skitter-stof
DIEPE POEL (GEDIG)
​
die diepe poel lê weerloos
in skade van die son
en talle rimpel dalings
styg bowaarts na die bron
refleksie van ‘n wêreld
anderkant die son
die diepe poel lê weerloos
en stille waters blom
hoeveel leë tuie voor ons
het ons gewaar op verre horison
hul waterig gevaar
het nutteloos gejubel in die wind
die storm span die seile
worstelend met die dag
een lange nag verwyle
tot die nuwe oggend kom
en toe hulle sink
was hulle diep en stil
en vol
JY LOS MY AGTER (GEDIG)
​
Jy los my agter in ‘n uitgebrande bomskuiling
van ‘n oorlog; lank reeds verby
waarin soldate koes-koes op vlug moes slaan
omdat die vyand se roekelose woorde hulle oorweldig het
waar suissende koeëls vanuit lang sissende glinsterlope onder ‘n ongevoellige son
vuur barstend, lood vingers tastend, soekend – die vlees vind
bleek vel plofrooi oopbreuk soos oorryp, onverteerbare granate
in die laaste somer waarin jong souterige lywe nooit weer die see sal voel nie
nooit weer sal erodeer of verweer nie, gebalsem met stof en roet
die geskreeu en gekerm van medemense
- hulle van agter getref het
waar hulle gesterf het met skok en verbasing oor die vinnige verloop van tyd
op gelaatstrekke wat skielik stol soos vlae op ‘n halfgebakte poeding
jy los my agter in hierdie uitgebrande bomskuiling
sonder eetlus
in die oorlog wat beide verloor het