top of page

Die Bewoners

 

Ek is ‘n bewoonde huis:

die huur word betaal met wel verdiende paaiemente en sorgvuldig uitgedeelde sente

my Vader se Vader bewaak die poorte

my Moeder se Moeder verlig die binnehof

met lantern en swaard

my visie van die wêreld rondom my word vertolk deur argaïese maniërisme en opinies

bygelowe hang in die spasie rondom die voet en end van my bed

en van benede die klei en klip waar my voorgeslagte die aarde help vorm

lê ‘n fondasie gegiet in mymering, oorvertellings en die geskiedenis van ‘n bloedlyn

onpeilbaar vêr en diep na benede

na die verlede

tot in die hede

in die greep van ‘n wasige toekoms-skede

waar halfgevormde beelde na ‘n konstant ontwikkelende raamwerk tas

en roep

en luister

en antwoord

in swaar gelaaide oomblikke vêr verby verval

 

dit alles lewe (en sterwe) binne my

tot die dag wanneer ek ook ‘n stil bewoner word van hierdie huis wat ek help bou het

bottom of page